|
Die Volkshulptuiste (VHT) is nog nie naastenby die ideale nie, maar
wel 'n plek waar nooddruftige volksgenote nie net 'n werk/inkomste en 'n
dak oor die kop gebied word nie, maar waar daar ook liefde en 'n
geestelike opvoeding tesame met die maatskaplike opheffing en
rehabilitasie geskied. 'n Soort "deurgangshuis" waarna die persoon weer
'n menswaardige en volwaardige plek in die ekonomies-bedrywige
samelewing kan inneem.
Ook by hierdie instelling het ons hoogte- en laagtepunte gedurende
die afgelope jaar belewe. Die laagtepunt was sekerlik die feit dat ons
noodgedwonge vanweë bepaalde probleme 'n hersiening en herorganisering
van die bestaande bestuur moes doen, ten einde 'n meer doeltreffende en
effektiewe organisasie te bewerkstellig. Dit is gedoen en 'n nuwe
bestuurder is na 'n keuringsproses aangestel. Die uitstaande hoogtepunt
is daarin geleë dat 'n onmiddellike metamorfose van die Volkshulptuiste
waarneembaar was. Die nuwe Bestuurder en sy eggenote sit werklikwaar
hulle harte en siele in om die Tuiste 'n "paradys" te maak. Dit, met
inagneming daarvan dat dit steeds gaan om die maatskaplike en veral
geestelike opbou van inwoners. Met genoegsame fondse waarmee
menswaardige huisvesting daargestel kan word, is dit wel moontlik dat
die Tuiste in 'n "paradys" omskep kan word.
Ongelukkig word steeds na die Volkshulptuiste deur sommiges (moontlik
vanweë onkunde van wat presies by die VHT vermag word) verwys as die "mission",
wat die VHT beslis nie is nie. Sy doel, samestelling en werksaamhede
getuig van die teenoorgestelde. Dis die enkele
rehabilitasie-suksesverhaal wat almal wat betrokke is by die VHT,
daardie stukrag, ywer en motivering verskaf om, ten spyte van
teenkanting van veral diegene met min empatie vir diegene wat in die
lewe geval het, voort te gaan om die hand te reik na daardie platgeslane
volksgenote wat om hulp uitroep. Ons wil dit onomwonde stel, dat
Volkshulp 2000 absoluut verbind is tot die sukses van die
opheffingstaak, waarvoor ons voorwaar ons bereid verklaar het. Daar is
geen manier dat ons ons van koers sal laat dwing deur persone wat nie
soveel empatie het met die Bybelse opdrag om na die weduwees en wese om
te sien nie.
- Baie fasette insluitende geestelike opheffing
Die opheffingsdiens waarvan melding gemaak is, behels sommer heelwat
fasette. Eerstens en heel boaan die lys staan geestelike bearbeiding.
Sonder die geestelike sy is opheffing nie moontlik nie en futiel. Dank
is dan ook verskuldig aan die NG-gemeente, Cullinan, met ds. Okkie
Olivier aan die spits, wat die taak en leiding op hom geneem het om
tesame met sy kerkraad en maatskaplike werksters, hierdie omvangryke
taak by die VHT te onderneem. Sondae se eredienste vervul 'n prominente
rol. So ook die gereelde weeklikse bidure wat deur Geesgedrewe vriende
in die omgewing behartig word.
- Suksesse in die rehabilitasieproses
Wanneer mens van suksesse in die rehabilitasieproses praat is dit ook
nie asof aanspraak op 'n 100% suksesverhaal gemaak kan word nie. Die
getal permanente suksesse kan seker die tweesyfer-merk haal en is maar
weinig. Nogtans is ons jubelend oor daardie enkele gevalle. Dit help tog
nie mens is naïef en gaan van die standpunt uit dat elkeen wat na 'n
periode by die VHT "skoon" uitgaan, wel permanent genees is nie. Nogtans
bly ons baie optimisties en weet dat die Here hierdie grootse projek ook
onder Sy vleuels hou. Ons beloning is wanneer iemand na 'n periode in
die VHT as "deurgangshuis", weer kan terugkeer na 'n selfstandige
bestaan, met 'n werk en eie verblyf in die openbare sektor.
- Pragtige meewerkers by Volkshulptuiste
Melding moet gemaak word van 'n paar pragtige meewerkers, soos die
dames van gebedsgroepe wat weekliks kruideniersware by die VHT aflewer,
en by verlede Desember selfs 'n Kersfunksie vir die inwoners gereël het.
So 'n bietjie "bederf" met gepaardgaande Kersgeskenkies. Vriende wat die nood van andere raaksien en bereid is om
iets daaraan te doen. Barmhartige Samaritane. Hierby kan gevoeg word
daardie inwoners wat hul harte en hande oopmaak en op tasbare wyse hul
empatie en bereidwilligheid om te help, betoon.
Op hierdie stadium moet ons ongelukkig vele mense wegwys vanweë die
onbeskikbaarheid van huisvesting. Eufemisties gestel, kan dit alleen
maar beskryf word as 'n ramp: Ons beskik oor die ruimte en
ablusiegeriewe, maar ongelukkig nie oor die behuising nie.
Die finansiële state gee detail van alle lopende bedryfskostes van
die Volkshulptuiste. Ook in hierdie geval is daar toenames in
bedryfsuitgawes. As voorbeelde: Elektrisiteit het
R22 262.12 bedra,
terwyl daar R46 436.46 net aan werkskepping bestee is.
Ons glo dat ons droom vir
die Volkshulptuiste
wel met die Vader se seën, sal realiseer.
|