|
Ons kan met trots sê: Ons beskik oor 'n pragtige
ouetehuis vir selfversorgende bejaardes. Volledig, huislik, aangenaam
met volop fasiliteite. Geen sent verskuldig op die eiendom nie, met die
uitsondering van lopende munisipale dienstegelde en die normale ander
uitgawes. Die ironie – en hartseer – is dat ons oor die geriewe en
akkommodasie beskik, maar nie meer as die huidige twee inwoners kan
inneem nie vanweë die maaltydkoste. Drie maaltye, met versnaperinge
tussen maaltye, kos in die orde van sowat R1 500 per persoon per maand.
Dit dien geen doel om senior burgers in te neem en dan skiet die
voedselvoorsiening te kort nie. Hierdie is maar een van die pogings van
ons kant om die vele en wye maatskaplike probleme aan te spreek. Indien
die volle welsynspektrum gedek wil word, moet daar maar net 'n veel
groter begroting kan wees waarmee gewerk kan word. Welsyn is omtrent
sinoniem met uitgawes. Ons inkomste is maar net nie naastenby genoeg om
die hele welsynsterrein (dit wat ons baie graag sal wil doen) te dek
nie. Sonder staatshulp (dalk belastingbydraes van medevolksgenote?) is
die ondervanging hiervan 'n saak van onmoontlikheid.
In ons geval is daar slegs een oplossing, naamlik, dat
borge bekom moet word, sodat elke inwoner wat ingeneem word, verseker kan
wees van 'n menswaardige bestaan en nie
dié van 'n plakkeromstandigheid
nie. In hierdie verband is ons besig om met verskeie gemeentes in
verbinding te tree ten einde moontlike borgskappe te bekom. Tot dusver
was ons nog onsuksesvol.
Die volgende was van die belangrikste uitgawes betrokke
by die Volkshulpsentrum. Maaltye vir die twee inwoners het R51 000
beloop; elektrisiteit was R14 491.65; algemene herstel- en onderhoud,
R13 725.41 en sekuriteit R4 753.70.
Elke inwoner dra wel 'n gedeelte tot hul losies by.
Gedurende die afgelope jaar is R13 063.80 in hierdie opsig ontvang.
Maatskaplike pensioenarisse (as enigste inkomste) betaal maandeliks net
R300 vir volle losies.
|