|
Die Snuffelwinkels is een van Volkshulp 2000 se belangrikste mylpale
wat bereik is. Dit het nie alleen uitgeloop op 'n besonder suksesvolle
werkskeppingsaksie nie, maar is veral ook vir ons 'n belangrike
lewenslyn in terme van die inkomste wat daaruit gegenereer word. Die 27
persone wat deur hierdie projek alleen in diens gestel en aan wie
salarisse betaal word, is bewys hiervan. Hierdie projek dra by tot
bykans 60% van die totale inkomste.
Ongelukkig is dit so dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ons
belastingpligtig verklaar het. Die betaling van inkomstebelasting, asook
BTW op geskenkte items is onafwendbaar. Ons pogings om te verduidelik
dat 'n mens nie 'n geskenkte sak klere, of 'n houttafel kan eet nie –
dat ons dit net in 'n erkende kommoditeit waarmee gekoop kan word, wil
omsit, help niks. Dit sal meebring dat ander maatskaplike projekte
ernstig skade gaan ly. Hierdie aangeleentheid word by
Maatskappystigting
verder aangespreek.
Die hele scenario rondom die Snuffelwinkels word duidelikheidshalwe
weer gestel.
Daar is aanvanklik begin met 'n Snuffelwinkel om:
as 'n werkskeppingsprojek, mense wat nêrens elders werk kon bekom
nie, in diens te stel, sodat hulle deur eie verdienste voedsel op
hul gesinne se tafels kon plaas
as fondsgenererende projek, fondse te in, sodat ander maatskaplike
projekte befonds kon word.
Die voorraad van hierdie Snuffelwinkels is slegs die "oorloop"-items
en klerasie wat nie dadelik aan minderbevoorregte volksgenote oorhandig
kan word nie. Ons hoogste prioriteite bly steeds, maatskaplike
gedienstigheid en word daar allereers na diegene se behoeftes (gratis)
omgesien.
Die Snuffelwinkels het uitgebrei na vier, soveel so dat inkomste
hieruit voortgebring, inderdaad Volkshulp 2000 se belangrikste
inkomstebron geword het. Soos hierbo gemeld, bykans 60% van die totale
inkomste. Ons sogenaamde "lewenslyn", want daarsonder sou ons nie
naastenby kon voortbestaan nie. Soos dit tans die geval is, slaag ons
nie eers daarin om al die noodsaaklikste behoeftes aan te spreek nie.
Dit wat ons in terme van klerasie en items ontvang, stel ons in staat om
voort te gaan met hierdie belangrike welsynsdiens aan die gemeenskap.
Die vier Snuffelwinkels het gedurende die afgelope jaar 'n inkomste
van R1 138 400.89 gegenereer. Bykans
R90 000 meer as die vorige jaar
(2005/2006). Wat sou ons ooit sonder hierdie belangrike inkomstebron kon
vermag? Hierdie projek is uit en uit die gevolg van die talle items wat
deur Volkshulpvriende geskenk word.
Konsultante is twee jaar gelede reeds betrek om te help met die
registrasie van 'n
Art 21-maatskappy, sodat die liefdadigheidsbeen
(Volkshulp 2000) losgemaak kan word van die handelsgedeelte waar goedere
verhandel word. Dis basies ons enigste uitweg. Sou dit realiseer,
beteken dit dat Volkshulp 2000 (liefdadigheidsbeen) kan voortgaan met sy
aansoek om belastingvrystelling ingevolge Art 18a van die Inkomstewet.
Wat verder beteken dat 'n donateur van Volkshulp 2000 ook 'n persentasie
afslag van sy/haar belastingpligtige bedrag kwytgeskeld kan word.
Die inkomste verkry uit die Snuffelwinkels gedurende die jaar
2004/2005, het R809 357 beloop. Vir die jaar 2005-2006 het 'n inkomste
van R1 049 380 gerealiseer. Dit het 'n toename van
R240 023
(29.65%) beteken. Weereens kan ons sê dat as dit nie vir ons
mede-eienaars (donateurs) was nie, sou Volkshulp nie minderbevoorregtes
in dieselfde mate kon help as tans nie.
Benewens die direkte uitgawes wat maandeliks t.o.v. die winkels
aangegaan word, moet ook daardie uitgawes wat op indirekte wyse aan die
winkeluitgawe toegevoeg moet word, in berekening gebring word.
Voorbeelde hiervan is
die uitgawe aan personeelsalarisse vir die aanvanklike ontvangs, afhaal,
sortering, merk, kodifisering, ens. Omdat hier gepraat word van
werkskepping (ons hoofdoelwit soos in die statute vervat), word die
genoemde personeel se salarisse onder andere as "werkskepping" in die
uitgawes van die handelsbeen toegedeel. As gevolg hiervan, het die
Snuffelprojek gedurende die afgelope jaar net 'n "wins" van sowat R2 090
gemaak, wanneer die Snuffelwinkels se inkomste en uitgawes teen
mekaar verreken word.
In die proses om 'n hoë graad van professionaliteit te handhaaf en
terselfdertyd maksimale beheer oor elke geskenkte item uit te oefen, het
ons enkele jare gelede oorgeskakel na 'n gerekenariseerde
voorraadbeheerstelsel. Ongelukkig het hierdie stelsel 'n baie lang
"tandekrystadium" beleef. Met groot dankbaarheid kan ons darem nou sê
dat ons wel makliker voorraadopnames in die verskillende winkels kan
onderneem. Ons hou goeie moed dat die Storemaster-stelsel die
voorraadbeheertaak vorentoe selfs verder sal vergemaklik. |