| |
Die nood-element spreek vanself. Hierby is ingesluit die
voedselpakkies wat deur die jaar aan behoeftige volksgenote uitgedeel
word. Ongelukkig is hier nie 'n "onderhoudings"-gedagte gekoppel nie,
vanweë die koste-aspek. Fondse is daar ongelukkig nie genoegsaam om op
'n kontinue basis voedselpakkies aan dieselfde gesin te oorhandig nie.
En natuurlik voel ons sommer baie sleg om 'n gesin mee te deel dat dít
nie algemene praktyk is om meer as net eenkeer per maand aan hulle 'n voedselpakkie te verskaf nie. Die getalle behoeftiges is eenvoudig net
te oorweldigend. Daar is egter ook daardie "oog-toeknyp"-gevalle, waar
daardie kinderogies vir jou vra: "Help asseblief nog 'n keer…" Weier?
Nee, dit kan mos tog nie… Dis waar ons absolute magteloosheid intree. Jy
wil so graag, maar daar is eenvoudig net nie genoegsaam nie. Die
streekkantoor is een van die plekke waar die meeste aktiwiteite
plaasvind. Dit sluit in die afhaal van
kospakkies.
Gedurende die afgelope boekjaar is 3875
voedselpakkies
uitgegee. Teen 'n konserwatiewe geraamde koste van R150 per pakkie,
beloop die waarde hiervan R581 250. Hierdie voorsiening kom uiteraard
nie uit ons begroting alleen nie en sluit tot 'n baie groot mate
skenkings in. By wyse van voorbeeld: Net minder as 12 000 kilogram
mieliemeel (in gesinspakkies opgemaak) en ongeveer 8 000 blikkies
boontjies in tamatiesous is aan gesinne toegedeel. Mieliemeel as
stapelvoedsel speel ook in ons geval 'n belangrike rol. Die besondere
toegeneentheid van verskeie individue verseker standhoudendheid van
hierdie kommoditeit. Sonder om name te noem, kan beklemtoon word dat
wonderlike persone soos dié van Naboomspruit wat maandeliks 'n besonder
groot finansiële bydrae maak tot die aankoop van mieliemeel; verskeie
boere van TLU SA wat op gereelde basis mieliemeelskenkings doen; en
sommer vriende van oraloor. Dit is egter ook waar dat die
mielieproduksie aan die afneem is en sal skenkings in hierdie verband
dienooreenkomstig afneem.
Maatskaplike noodhulp omvang velerlei fasette. Dit kan
wees klerasie, ameublement, kontant (ofskoon slegs in hoog uitsonderlike
gevalle), woonplek, hulpverlening op verskeie ander terreine. Hieronder
volg enkele verdere fasette/projekte wat maatskaplike noodhulpelemente
insluit.
Die kwaliteit van die voedselpakkies blyk verder daaruit
dat daar weekliks deur verskeie instansies brood voorsien word, selfs
tuisnywerhede wat soetighede, vleisrolletjies en ander lekkernye
verskaf. Verder: vars en gevriesde groente, vrugte en vars vleis, word
op gereelde basis deur wonderlike, goedgesinde en omgee-vriende na ons
gebring vir uitdeling. Weereens sal dit onregverdig wees om name te
noem. Vele van hierdie vriende wil glad nie hul name genoem hê nie en
verkies om anoniem te bly. Nogtans gaan hierdie dade nie ongesiens verby
nie. En ons sê namens al die volksgenote wat by hierdie kospakkies en
voedsel baat, baie dankie aan hulle wat ons in staat stel om wel hierdie
toedelings te kan doen. |
|