|
Die Volkshulp 2000 organisasie doen presies dit wat sy
naam sê: Dit verleen hulp aan ons volksgenote wat maatskaplike nood
ervaar. Volkshulp 2000 is 'n volkseie instelling. Die organisasie is
reeds op 21 Julie 1991 gestig, en daar is tans 'n aantal
Volkshulpkomitees landswyd. Benewens dit
is daar ook talle ander projekte aan die
gang. Volkshulp 2000 is soewerein, staan volwaardig op sy eie bene en is
van GEEN ander instansie afhanklik nie.
Die organisasie behoort aan ons volksgenote wat ons in
staat stel om 'n welsynsdiens te kan lewer.
GEEN staatsubsidie van ENIGE AARD word ontvang nie, en dus is Volkshulp
2000 van ons volksgenote se welwillende bydraes afhanklik.
Volkshulp 2000 is 'n a-partypolitieke instelling, en is
ook nie aan 'n spesifieke kerklike denominasie gekoppel nie. As sy vaste
grondslag, berus Volkshulp 2000 op Christelik-volkseie beginsels, en
handhaaf ons die Christelike Bybelse norme.
Ons glo dat God Drie-enig volkome beskik oor die bestaan
en lotgevalle van volkere. Daar bestaan by sommiges nog verwarring oor
die PLEK van Volkshulp 2000 as volkseie welsynsinstelling, vergeleke met
ander organisasies of instellings met amper soortgelyke oogmerke as
Volkshulp 2000. Sommige vriende is bv. van mening dat Volkshulp
2000 deel uitmaak van ander volksgerigte organisasies. Dit is nie die
geval nie, en was ook nooit die geval nie!
Volkshulp 2000 is 'n selfstandige, gevestigde en
suksesvolle instelling wat finansieel sowel as organisatories
onafhanklik is. Die VOLKSHULP-hand word wel uitgereik na alle
volksgerigte organisasies wat op die wyduiteenlopende en omvangryke
welsynsveld beweeg, of daarmee te make het. Daar word gevolglik
oorkoepelend en koördinerend opgetree, en word hulp sover moontlik
verleen--selfs aan diegene wat staatsubsidies ontvang. Laasgenoemde is
veral die geval waar volksgenote se nood so groot is, dat die
subsidie-inbetaling, sommer ver tekort skiet. Die interessante is dan ook
dat sulke instellings inderdaad na Volkshulp 2000 opsien om hulp, en in
ander gevalle, selfs verwag dat Volkshulp 2000 hulle moet ondersteun.
Raadpleeg asseblief ook Vrae
en Antwoorde vir meer spesifieke inligting.
|