|
Dis steeds ons grootste versugting om dwarsoor die land heen
effektief-funksionerende Volkshulpkomitees of -werkers met 'n bepaalde
OMGEE-gevoel in die hart te kan hê, wat na die behoeftes van
minderbevoorregte volksgenote kan omsien. Vanweë vele probleme in die
verlede het talle pogings in hierdie verband misluk. In die merendeel
van gevalle gebeur dit dat die selfverrykingselement ongelukkig die
hoogste prioriteit raak. Die welsynsveld leen hom, baie jammerlik, tot
misbruik van skenkings, indien daar nie met absolute hiper-eerlikheid te
werk gegaan word en effektiewe kontrole-
maatreëls ingebou en nougeset
toegepas word nie. Vandaar dat daar binne Volkshulp 2000 se algehele
administrasie met deursigtigheid te werk gegaan word. Dit beteken
kortliks dat Volkshulp 2000 se eienaars (donateurs en skenkers)
eerstehands alle rekenkundige boeke kan nagaan en dan die werknemers
onder die vergrootglas kan plaas. Verder stel ons ons boeke ook
jaarliks beskikbaar vir noukeurige ondersoek deur eksterne rekenmeesters en
ouditeurs en selfs die staat.
Daar is wel ook ligpuntjies in hierdie verband. Daar is verskeie
persone oor die land heen wat "hand opgesteek" en aangebied het om bv.
as versamelpunte te dien. Tweedens word alle APK-gemeentes genader met
versoeke vir uitreiking en samewerking op maatskaplike gebied. Hierdie
poging geskied met die ondersteuning van die Sentrale Kerkkantoor.
Daar is ook effektiewe kragte in bepaalde areas werksaam. Die
uitstaande een is daar aan die Wes-Rand waar maatskaplike nood absoluut
gedy. Gelukkig dan ook dat daar vriende soos meneer en mevrou Zentgraf
is wat medevolksgenote in hul krisisse ondersteun en help. Dis hierdie
kaliber persone wat ons graag oor die land heen wil sien funksioneer.
Opofferinge is natuurlik ook aan die orde van die dag. Gebruikmaking van
'n privaat woning om items te berg, is een so 'n opoffering. In sommige
gevalle het Volkshulp 2000 wel ingetree en bv. 'n houthuisie
("Wendy"-huisie) laat oprig om die ergste bergingsprobleme die hoof te
bied. Dis egter nie naastenby die antwoord nie. Effektiewe kantore met
infrastrukture en logistieke voordele is die aller antwoord. Die
kapitaal hiervoor ontbreek egter.
|