|
Met jaarlikse verslae word normaalweg beoog om aan aandeelhouers, of
dan, in ons geval, aan donateurs as mede-eienaars van Volkshulp 2000, 'n
blik te gee op dit wat ons die afgelope jaar met hul skenkings gedoen
het. Dis dan ook gewoonlik by Algemene Jaarvergaderings waar die
leidinggewende beamptes tot verantwoording geroep kan word. Met groot
sekerheid kan ons verklaar dat alle skenkings gedurende die afgelope
jaar met die grootste noukeurigheid aangewend is. Dit wil sê, dit
waarvoor donateurs die skenkings bedoel het. Die bewyse vir hierdie
stellings is te vind in die finansiële state en ander gedetailleerde
boekhouding wat deur die jaar heen deur enige mede-eienaar ondersoek kan
word. Hierdie openhartigheid en akkuraatheid was nog altyd ons sterk
punt en iets waarop ons kan roem. Min (indien enige ander) besigheid sal
dieselfde blootstelling vir ondersoek van hul boeke kan of wil toelaat.
Daar kan met groot dankbaarheid teruggekyk word op die afgelope jaar se
werksaamhede. Die Hand van die Here daarin lê duidelik soos 'n silwer
draad deur alle werksaamhede. Onmiddellik moet ons byvoeg: So is die
Heer se Hand en wonderlike seëninge ook in die afgelope 16 jaar van ons
bestaan duidelik sigbaar. Bewysplase hiervan sal duidelik blyk uit die
gegewens verderaan in hierdie verslag.
Vir almal betrokke by Volkshulp 2000 is dit 'n onuitspreeklike
voorreg om diensbaar te wees en die bevrediging te ervaar om vir
maatskaplike hulpbehoewende volksgenote van hulp te wees. Weereens:
Sonder die hulp en bystand van vriende wat dit in die hart voel en 'n
OMGEE vir minderbevoorregtes openbaar, sal Volkshulp 2000 nie kan
voortbestaan nie.
Die fenomenale groei van Volkshulp 2000 spreek duidelik uit die
statistieke. Die suksesse is geleë in die feit dat waar die maatskaplike
behoeftes onder volksgenote daagliks toeneem, dit ongelukkig ook waar is
dat die beskikbare middele nie daarmee tred hou nie. In teenstelling met
ander privaat maatskappye en besighede, kyk ons nie na die "winsmarge"
wat behaal kan word nie. As liefdadigheidsorganisasie wend ons maksimaal
fondse aan ter bekamping van verarming. Dus: Hoe meer inkomste; hoe meer
kan ons aan die steeds toenemende behoeftes spandeer. Die agterstande in
armoede akkumuleer egter so vinnig dat die eskalerende verarmingsproses
nie naastenby in bedwang gehou kan word nie. Die uitdaging: Die
bewerkstelliging van 'n "ontmoeting" tussen hierdie twee uiterste pole.
Dis egter net op een manier haalbaar, naamlik, dat daar genoeg fondse
beskikbaar moet wees om die toenemende verarming te probeer hokslaan.
Indien die regering van die dag met al sy beskikbare belastinggeld en
enorme staatskas nie eers daarvoor kans sien nie, is dit duidelik dat
ons uiteraard nooit daardie mikpunt sal kan behaal nie. Dus: spreek aan
wat met beskikbare fondse aanspreekbaar is. Dis net ontsettend jammer
dat veral kindertjies die ergste daaronder moet ly.
Ook die afgelope jaar was vir ons 'n hoogs suksesvolle een. Vanweë
die feit dat ons nie elke maand kan reken op 'n bepaalde spandeerbare
bedrag nie, gebeur dit dat die uitgawes wel die inkomste kan oorskry –
soos verderaan verduidelik sal word – maar dan het die Here weer telkens
daardie besondere barmhartige Samaritaan op ons pad geplaas. Sy genade
was vir ons genoeg. Lofprysinge en dankbetuigings kan daar nie genoeg
van wees nie. |